God's word in today's world

Waar ’n vyand is, is ’n aanval om die draai


Sommige predikers “verkoop” die Christendom aan die ongereddes op so ’n manier dat alles net lekker klink. Amper soos ’n pie in the sky waar alles net voor die wind gaan. Jy moet net ’n paar regstellings in jou lewe maak en dan sal jy sien hoe reën die seën van die Here op jou. Die swaar wat jy nou kry is net as gevolg van jou eie verkeerde dade. Maar wanneer jy jou tot God draai, sal die donker wolke padgee en sal die wonderlike son van welvaart oor jou skyn.

Dis egter ’n volslae leun. Dit is mense wat hulle oë wegdraai van die realiteit rondom ons en hulle maak stories op wat ver van die waarheid is.

Daar is ’n vyand wat nie wil hê die Christendom moet groei nie. Daar is ’n vyand, alhoewel hy reeds oorwin is, wat sy bes probeer om te keer dat mense na God draai. Waar vyande ter sprake is, moet jy jou gereedmaak vir oorlog. Jy moet jouself beveilig en te alle tye gereed wees vir ’n aanval. Ja, enige tyd van die dag kan daar ’n oorlog uitbreek en die vraag is of jy gereed gaan wees. Gaan jy opgewasse wees om dit waarin jy glo, tot die tande toe te verdedig?

3Natuurlik is ons net doodgewone mense, maar ons leef glad nie volgens die reëls van hierdie wêreld nie. Nee, ons is in ’n voltydse oorlog gewikkel om die goeie nuus uit te dra.

Ek onthou nog die opleiding wat ek in die weermag gehad het. Ek onthou hoe die korporaals ons rondgejaag het – in die middel van die dag en in die middel van die nag. Hulle het dit reggekry om al die mamma-goedjies uit ons te dril en van ons groot manne te maak, gereed om ons land te verdedig. Hulle het ons aan die einde van die twaalf maande opleiding so opge-charge dat ons bereid was om enige iets vir ons land te doen. Selfs mense te gaan doodskiet.

In die geestelike wêreld is die vyand woes bedrywig en ons moet besef dat ons onsself gereed moet kry om enige tyd van die dag ons wapens op te neem en te baklei vir dit waarin ons glo. Hoor hier: 4… Ons staan in die Here se diens; daarom kry ons al ons wapens by Hom. Daarmee vernietig ons alles wat in die pad van die goeie nuus staan, selfs die heel sterkste vestings van die vyand. Met hierdie wapens vernietig ons elke vals argument. 5Elke hooghartige leuen wat die ware kennis van God probeer verdraai, loop ons met God se wapens onderstebo. En elke gedagte wat deur ons koppe gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit. Ons dink slegs wat Hy wil hê. 6Omdat ons tot die tande toe gewapen is, staan ons gereed om elke stukkie ongehoorsaamheid te straf en daarmee af te reken. En ons gaan dit ook daar by julle kom doen sodra julle geleer het om regtig na die Here te luister.

Dis oorlog man! Dis ’n feit soos ’n koei. Hoeveel keer ’n dag moet ons nie vasbyt en stry teen ’n aanval van die duiwel nie? Hoeveel keer moet ons nie gereed wees en wag staan en beskerm dit waarin ons glo nie? Die vyand is die heeltyd besig om te probeer steel, ’n wig tussen mense in te druk, ons vreugde weg te neem en nog vele meer.

Ons moet besef dat ons in ’n oorlog gewikkel is. Elke oomblik van die dag kan die vyand kom met ’n aanval en ons moet opgewasse wees. Ons moet ons wapens ken en weet hoe om hulle te gebruik. Ons moet tyd maak vir God. Ons moet weet hoe sy stem klink. Ons moet presies weet wat Hy van ons verwag en watter wapens om te gebruik. Ons moet die Heilige Gees instinktief in beheer plaas. Dan is ’n oorwinning moontlik.

Toe ons in die weermag by die grens aangeval is, het elke soldaat presies geweet wat om te doen. Met die eerste skoot wat klap, skrik jy jouself in ’n bewerasie in. Jou hart klop kliphard in jou oor. Ewe skielik haal jy diep en onrustig asem. Jou gedagtes speel woes in jou kop rond. Êrens wonder jy of jy vandag die een is wat dit nie uit die kontak situasie gaan maak nie. Maar as jy die stem van die bevelvoerder hoor, weet jy ewe skielik presies wat om te doen. Soos ’n masjien gaan jy ritmies na vore en doen jou ding.

Ons moet ’n streep in die sand trek en vir onsself sê dat daar ’n vyand is en as daar ’n vyand is, is die geveg net om die volgende draai. Maak tyd met God. Leer sy stem ken. Laat toe dat Hy jou verander. Laat toe dat Hy jou oplei en bemagtig vir die aanval. Dan sal ons die oorlog wen. Ja, elke keer sal ons as oorwinnaars uitstap.

Teks:

2 Korintiërs 10:1-6

Om oor na te dink

Waar woed jou oorlog?

Is jy opgewasse vir die aanval?

Hoor jy die Bevelvoerder se opdragte?

 

Gebed

Here, vir seker is daar oorlog. Ek voel dit aan my bas. Ek moet bieg dat daar al tye was wat ek handdoek wou ingooi. Maar nou besef ek dit was omdat ek nie goed genoeg voorbereid was vir die aanval nie. Ek wil meer leer. Ek wil meer opgewasse wees. Daarom wil ek meer tyd met U deurbring, want ek glo met U Gees in beheer kan ons die oorlog wen. Amen

Print Friendly, PDF & Email

SUBSCRIBE


Visit our web shop to purchase Crossroad247 books

Visit our shop
Kruispad Boek